Die Swartberg se bekoring

In die Klein Karoo lê versteek ‘n skatkis van asemrowende oomblikke wat vir elke natuurliefhebber en stads-vose swerwer wag.

Knus tussen die Outeniqua – en Swartberge word die waarderende oog van elke soekende reisiger verlei deur die diversiteit van hierdie pragtige stukkie aarde.  Hier vind jy jouself, tussen fynbos en sandsteen en die ongelooflikste sterrehemel.

Die Swartberg bly vir my die geskenkpakkie van die Klein Karoo. Vroegoggend voor dagbreek, met piekniekmandjie gepak, vind ek koers na hierdie Skeppingswonder. Nie alleenlik is die Swartberg ‘n UNESCO verklaarde Wêrelderfenis gebied en die Swartbergpas ‘n Nasionale monument nie; vir my bied hierdie berg eindelose ure van sielsverrykende bekoring.

Die pragtige fynbos, suikerbosse, erika’s en die diverse voëlspesies wat nektar uit kleurryke proteas  suig of grasieus oor wakende dassies sweef. Die potpourri reuk van kooigoed en die lemmetjiegroen ligene wat die roesbruin berghange versier.

Vroegoggend se wakkerword in ‘n berghut met ‘n skouspelagtige uitsig oor die Groot Karoo se Nuweveldberge op die horison. Met stomende koppie eerstelig-koffie in jou hand ervaar jy tasbaar die vrede van die Skepper wat met Goddelike vaardigheid hierdie landskap geplooi het.

Vir meer as sewe jaar is dit my voorreg om met glimlag en ‘n lied in my hart, reisigers van moedertaal tot vreemde tong in hierdie sandsteen-fynbos paradys te begelei.   Dankie, Heer….

Bydra deur: Jan Bester
True South Travel
jan@truesouthtravel.co.za

This entry was posted in Oudtshoorn. Bookmark the permalink.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>